Thys van Zyl waarsku dat Suid-Afrikaners nie meer tevrede is met beloftes, slagspreuke en herwinde planne nie
Volgens Van Zyl bevind Suid-Afrika hom tans op ‘n keerpunt waar beide plaaslike en internasionale druk saamvloei.
“Hierdie Sona gaan uiteindelik ‘n geloofwaardigheidstoets wees”, sê Van Zyl.
“Die president moet bewys hy verstaan die ekonomiese nood waarin huishoudings en ondernemings hulself bevind. Retoriek gaan nie meer werk nie. Die land wil sien of daar ‘n uitvoerbare plan is.”
Hy sê Suid-Afrika betree vanjaar se staatsrede teen ‘n agtergrond van ‘n wêreldorde wat vinning verander en ‘n plaaslike ekonomie wat steeds sukkel om momentum te kry.
“Internasionaal word handelsoorloë intenser, geopolitieke konflikte ontwrig voorsieningskettings en ekonomiese alliansies word meer rigied. Binnelands bly Suid-Afrika vasgevang in ‘n bekende siklus van lae groei, hoë werkloosheid, stygende huishoudelike druk en groeiende openbare frustrasie.”
Volgens hom is die tyd vir ideologiese gerusstellings lankal verby.
“Suid-Afrikaners wil nie meer abstrakte beloftes hoor nie. Hulle soek duidelike werkskeppingsteikens, spesifieke energie- en infrastruktuurdatums, handelstrategieë wat werk beskerm, lewenskosteverligting wat tasbaar is, en veral aanspreeklikheid vir dienslewering.”